Wednesday the 20th - - Hostgator Coupon

Terwille van jóú, my kind!

My liewe kinders,

Julle is nog so klein en vir julle is die CVO skool maar net “’n skool”. Daar gaan egter ’n dag kom dat julle sal wil weet hoekom Pappa en Mamma julle in hierdie skool gesit het. Julle gaan groter word en hoor van ander “wonderlike” skole in die stad. Skole met baie sportgeleenthede; skole wat al baie belangrike persone en sporthelde opgelewer het; skole met ’n ryk geskiedenis van prestasies op akademiese en kulturele terrein. Miskien sal julle eendag wil weet waarom ek en Mamma dan gekies het om julle in hierdie skool te sit as daar soveel ander goeie skole in die stad is?

Ek het self lank gelede hieroor gewonder. Ek was standerd 7 (of hoe sê julle nou – graad 9) toe Oupa en Ouma ons uit die staatskool gehaal en na die CVO skool gebring het. Ek het baie vrae gehad. Ek wou Maandagoggende huil as ons al vieruur (winter en somer) moes opstaan om betyds te wees vir skool, maar ek kon nie, want ek was al groot! Ek het gewonder waarom Oupa en Ouma bereid was om ons vir ’n week of soms selfs langer  nie by hulle te hê nie (as ons nie kon huis toe gaan oor ’n naweek nie). Daar was baie dae wat ons nie baie geld in die huis gehad het nie. Dae dat ek vir Oupa hoor kla en die wanhoop in sy stem kon hoor oor ons finansies. Ek kon nie help om te wonder waarom hulle dan bereid was om duisende rande aan skoolgeld en brandstof te betaal net sodat ons in die CVO skool kon wees nie. Soms het van die ander kinders ons gespot omdat ons in ’n CVO skool was en moes ons maar self ons man staan. Dan het ek gewonder waarom ek nie ook maar in ’n gewone skool kon wees nie. Wanneer ek gehoor het hoe van my vriende wat saam met my in die staatskool was, Cravenweek gespeel en ander groot prestasies behaal het, kon ek nie help om te wonder hoe ek sou vaar as ek nog in ’n gewone skool was nie.

Nou is ek groot en die Here het julle twee pragtige kinders vir ons gegee. Ewe skielik wonder ek nie meer nie! Die dag toe ek en Mamma julle die eerste keer in ons arms gehou het, het ons geweet ons sal dieselfde doen as Oupa en Ouma. Die wêreld waarin julle grootword, lyk baie anders as die wêreld waarin ons grootgeword het. Dis ’n wrede wêreld. Dis ’n wêreld wat nie wil hê jy moet jouself meer ’n Christen noem nie; ’n wêreld wat jou wil laat skaam kry omdat jy Afrikaans praat en Afrikaner wil wees; ’n wêreld wat jou geskiedenis en jou denkwyse wil verander. Dit is ’n wêreld waarin julle jul man moet kan staan en weet wie julle is, my kinders.

Dit is waarom dit vir my so baie beteken dat julle in dieselfde skool as ek kan wees. Ek wil nie hê julle Engelse woordeskat moet groter wees as julle Afrikaanse woordeskat nie. Ek wil graag eendag breed kan glimlag wanneer julle moedertaal tongklap-lekker op jul lippe dans omdat julle weet waar Dawid die wortels begrawe het en my pappa in plaas van “daddy” noem. Ek wil hê julle moet weet van die Oosgrens, die Groot Trek, Vegkop, Bloedrivier en Majuba, want die lewe is nie maklik nie. Daar gaan tye in julle lewens wees wat julle ook vasgekeer gaan wees deur ’n oormag. Soms gaan julle ’n oorlog veg soos die Tweede Vryheidsoorlog waar julle ’n edel stryd stry en steeds verloor. Dit is dae soos daardie dat ek wil hê julle moet genoeg selfvertroue hê om weer te probeer, op te staan en met dieselfde durf as die vroue in die konsentrasiekampe voort te beur.

Julle weet dat ek julle liefhet, my kinders, maar julle moet ook weet dat ek die Here liewer het as vir julle. Julle is sy geskenk aan my en Mamma met die opdrag om julle groot te maak tot die eer van sy Naam. Ek sit julle in hierdie skool sodat julle vaste fondamente kan hê en duidelike rigtingwysers in die lewe omdat julle hier kan leer hoe om ín die wêreld te wees, maar nie sóós die wêreld nie. Ek sit julle in hierdie skool omdat die Bybel hier nie net ’n sousie is nie, maar suurdeeg wat alles wat julle geleer word beïnvloed sodat julle oortuig kan wees dat God waarlik Koning is oor elke terrein van die lewe. Vir sommige mense is dit belangriker dat hulle kinders eendag breëbors en toe-oë kan sing: “…and united we shall stand”, maar vir my en Mamma is dit belangriker dat julle eendag in bewende eerbied singend sal bid: “Op u almag vas vertrouend”.

Ek is seker julle gaan nog baie wonder: Hoekom? As julle oor hierdie dinge wonder, dan is dit my wens dat julle getroos sal word met die sekerheid: Dit was alles ter wille van jóú!

Liefde

Pappa